Tuis
Produkte
Agtergrond
Nuusbrokkies
Navrae
Kontakbesonderhede
Aflaaie
ELEKTRONIESE BANKDIENSTE !
   
 


Oranjekas neem die voortou.

Tydens ’n strategiese beplannings vergadering van Oranjekas Desember 2009, het die Direksie van Oranjekas die visie van Oranjekas  gedokumenteer as :  “Oranjekas neem die voortou in die vestiging van ’n volksekonomie deur professionele volkseie bankdienste aan die Afrikanervolk te verskaf.”  Hierdie visie mag dalk vreemd klink, veral as die vraag waarmee Oranjekas die meeste gekonfronteer word deur kliente die volgende is:  “Hoekom kan julle nie doen wat die ander kommersiële banke doen nie?” 
Hierdie vraag word so gereeld gevra (en geantwoord) dat Oranjekas dit nodig geag het om dit ook hier te antwoord. Na aanleiding van die antwoord sal dit ook duidelik word dat daar waarheid is in die visie van Oranjekas.   

Op hierdie stadium lewer Oranjekas verskeie dienste en produkte.  Spaarrekenings, vaste deposito’s en alle tipe lenings word toegestaan, maar daar is een aspek waarin Oranjekas nog in gebreke is.  Ons mense vereis elektroniese bankdienste en bankkaarte.  Sonder hierdie dienste, is ’n bank nie ’n bank nie.  

Oranjekas het besef dat wanneer die volk spreek, moet die bank luister en na deeglike beplanning en navorsing, het Oranjekas besluit om die groot stap te neem en elektroniese bankdienste te implementeer.  Binnekort gaan Oranjekas se kliënte gevolglik ook elektroniese bankdienste op hul Oranjekas rekeninge ontvang!  

Daar is twee maniere om elektroniese bankdienste te verskaf.  Die eerste is om ten volle in die betaalsisteem van Suid-Afrika opgeneem te word.  Daardeur verkry ’n instansie ’n PASA rekening en word hy gemagtig om in Bankserv (verekenings maatskappy) se sisteem opgeneem te word.  Dit is ’n moeilike en duur proses en word deur al die kommersiële banke gebruik.  Die tweede is om nie in hierdie stelsel opgeneem te word nie, maar die betaalsisteem net te gebruik as daar geld uit die stelsel moet vloei.  

Oranjekas het besluit om die tweede opsie te kies om sodoende ons volk te verlos van ’n stelsel waaroor jy (ons volk)  geen beheer het nie.  Om daardie rede het Oranjekas begin om ’n elektroniese stelsel te ontwikkel om al die bankdienste aan sy kliënte te lewer, los van die RSA betaalstelsel, maar met toegang tot daardie betaalstelsel.  Dit is ’n geslote stelsel waaroor Oranjekas al die beheer het.   

Die voordele wat hierdie volskeiebetaalstelsel vir die kliënte van Oranjekas gaan legio wees.  Oranjekas se rekeninghouers sal ten volle internet transaksies kan doen en geld kan oorplaas na enige rekening in Suid-Afrika.  Verder sal die rekeninghouer ook selfoontransaksies kan doen, op ’n platform wat tegnologies so gevorderd is, dat dit ’n eerste in Suid-Afrika sal wees.  Nie net gaan hierdie loopfoonbankdiens die goedkoopste i n die land wees nie, maar dit gaan so gebruikersvriendelik wees, dat selfs die “tegnologiesgestremde” volksgenote dit met gemak sal kan gebruik .  Daar sal ook twee kaarte uitgereik word.  Oranjekas se eie interne kaart wat net gebruik kan word by Afrikaner ondernemings wat Oranjekas rekeninge het en dan  ook ’n eksterne kaart wat enige plek ter wêreld gebruik kan word die eksterne kaart aanvaar word.  Enige tellermasjien, enige winkel sal die kaart kan aanvaar en die allerbeste is dat al die transaksies direk op u Oranjekas rekening reflekteer!  

Die stap beteken dat Oranjekas die voortou neem in die vestiging van ons eie volksekonomie.  Sonder  ’n voertuig om die geld te hanteer in die volksekonomie, het die volk geen ekonomie nie! 

Die Oranjekas stelsel is waarlik Eerstewêreldse tegnologie in ’n Derdewêreldse land, vir  die Afrikaner!   Hou gerus die volksmedia dop vir die loodsingsdatum.  Vir verdere inligting oor die stelsel en ander produkte, kan u gerus Oranjekas se nuwe bankbestuurder, mnr. Kobus Terreblance kontak by 0860 104 297, of besoek www.oranjekas.co.za.